Birdlife Polokwane is deur Wian Haddad van ZZ2 se Cordier Bewarea versoek om 'n voëlopname namens hulle te doen. Die opname het Vrydagmiddag 31 Maart 2017 om 17:00 begin en het tot 11:00 Sondagoggend 2 April 2017 geduur. Al die voëls wat gesien en/of gehoor is was aangeteken. Alhoewel die opname aan die einde van die somerseisoen gedoen was en ons dus moontlik nie al die trekvoëls gesien het wat gewoonlik daar mag wees nie, het ons tog verskeie trekvoëls waargeneem. Die bewarea het twee SABAP2 pentads verteenwoordig, naamlik 2325_3005 en 2330_3005, en die verskeidenheid habitatte in die bewarea beteken dan ook dat daar heelwat verskillende voëlspesies teenwoordig is.

Die relatiewe klein area (in pentad 2325_3005) waar ons kon beweeg rondom Sanga Lodge en die nabygeleë dam het 83 spesies opgelewer. Hier was veral heelwat van die migrerende sangers, waaronder die Europese Rietsanger (Marsh Warbler) en die gesogte Sprinkaansanger (River Warbler). Die dam met sy twee Water Dikkoppe (Water Thick-knee) was 'n besondere interessante waarneming gewees aangesien hulle maar skaars in daardie geweste is. Twee ander hoogtepunte was Gryskapokvoëls (Grey Penduline Tit), een van die kleinste spesies in Suider-Afrika (weeg slegs 6.5 g,) en die Swartkatakoeroe (Black Cuckcooshrike).
Die res van die bewarea val binne die pentad 2330_3005 en hier het ons 90 spesies opgeteken. Hier kon ons hoofsaaklik net op die paaie beweeg om voëls te soek aangesien meeste van die paaie of toegegroei was of verspoel het. Besonderse spesies was die Konkoit (Gorgeous Bushshrike) teen Tswale Kop, nog 'n groepie Gryskapokvoëls, Water Dikkop en 'n groepie Swarthelmlaksmanne (Retz's Helmetshrike) wat 'n trekpleister is vir baie voëlkykers. Ons het maar min roofvoëls gesien maar 'n Bruinslangarend (Brown Snake Eagle) en Grootjagarend (African Hawk-eagle) was hoogtepunte in die afdeling.
Ons totale lys vir die naweek was 125 spesies. Ietwat verbasend is dat ons geen koekoeke gesien of gehoor nie. Koekoeke is trekvoëls en roep hoofsaaklik van hulle aankoms tot so Desember/Januarie. Ek wil net graag vir Wian Haddad en die bestuur van ZZ2 se Cordier Bewarea bedank vir die geleentheid wat hull ons gegee het om die voëlopname daar te kon doen.